197.242.68.122
In Gesprek met die Gemeente - True Motives - Newsletter / Blog True Motives
Newsletter / Blog


2017-10-26
In Gesprek met die Gemeente


In Gesprek met die Gemeente
 
In die nuuste boek van Anton van Niekerk, “Die Dood en die Sin van die Lewe” skryf hy dat daar al baie geskryf is oor God, maar oor die dood praat mense nie.  Dit is ‘n soort van taboe onderwerp.  Sy argument is dat ‘n mens oor die dood moet praat ten einde die lewe te kan verstaan.  Behalwe dat die boek effe moeilik lees, verskil ek van hom maar my teenargumente is ook maar bra power.
 
In antieke tyd het ons die dood gepersonifiseer. Hy (of dalk is dit ‘n sy) is die man met ‘n swart gewaad en ‘n versluierde gesig (seker dat ‘n mens hom nie kan herken nie), die verskrikking van die lewe.  In sy hand het hy ‘n sens en hy kom om te oes. Hy praat nie, hy oes net.  Hy kom onverwags in die nag en vertrek met sy oes geruisloos.  As kind moes jy in ‘n fluisterstem praat waar die dood geoes het.  Regop en stil, en in respek vir die dood, moes jy op half middeleeuse wyse versteend eenkant op aandag staan.  Hieroor praat jy nooit.  Niemand praat daaroor nie.
 
Is daar dan sin in die dood? Is die dood dan nie die mees sinlose van die lewe nie.  Word ons nie maar net gebore sodat ons kan dood gaan nie.  Die tussenin is ‘n stryd teen die dood en oorlewing.  Ons spandeer soveel tyd om aan die lewe te bly.  Drink pille, vitamines en as jy van jou verstand berowe is drink jy Timjan.  Hoe bitterder, hoe slegter, soveel te meer hou dit die dood op wag.
 
Van Niekerk skryf in sy boek dat die dood ‘n finale eindigheid aan die mens gee en daarom ‘n dringendheid en erns na die soeke van die sin van die lewe.  Hy haal dan die Russiese skrywer aan wat gesê het “Life in this world has meaning just because there is death; if there were no death in our world, life would be meaningless.” Ek wil dalk nie met hom oor die dood redeneer nie, maar ek weet een ding: dat ons as mense nie sal kan lewe as die dood die finale sê het nie.  Dan verloor ons alle hoop.  Dit was   Dante wat in die Goddelike Komedie gesê het dat bokant die poort na die Hel staan die woorde “Wie hier in gaan, verloor alle hoop”.
 
Hoop is die een ding wat ons aan die lewe hou.  Hoop is een van die kragtigste dryfvere wat die mens sin gee.  Hooploosheid is die dood self.  Die groot Griekse Filosoof Plato was van mening dat die mens hom van die res van die skepping onderskei deurdat hy die enigste wese is wat hoop koester.  Dit was Emile Brunner wat ook die stelling maak, dat hoop net so noodsaaklik is vir ons lewe soos suurstof.
 
Waarop hoop ons;  ek dink dat daar ‘n lewe is na die dood, dat die dood ‘n deurgang is, ‘n oorstap dalk na iets beters, dat ons weer ons mense vir wie ons so lief is, sal sien.  Dat ons van aangesig tot aangesig  God sal sien.  Dit bring sin in die lewe.  Of die anderkant goue strate het, skeel my veel.  Of daar groen grasperke is, is irrelevant. Al wat saak maak is dat die Sondag na die kruisiging Jesus opgestaan het.  Dat God wat ons aanbid die dood oorwin het.  Dat as die man met die swart kleed kom ek nooit alleen sal wees nie.  Dat die lewe finaal oor die dood oorwin het.
 
Geloof, Hoop, Liefde  
 
      

Piet Marais
083 2590023

Back Back to top