129.232.161.250
Houston, We got a problem - True Motives - Newsletter / Blog True Motives
Newsletter / Blog


2017-09-14
Houston, We got a problem


Houston, We got a problem
Dit is die bekende woorde van die ruimtevaarders wat in die ruimte vagekeer was omdat hulle tuig onklaar geraak het.  ‘n 40 of so jare later is die woorde dalk profeties.  Hoe hoor ons God praat in tye van nood?  Een van die ruimtevaarders het agterna gesê:  ”Ek was nooit godsdienstig nie, maar skielik was God so naby en tog so ver.”  Na noodprosedures en ure se spanning land hulle tog veilig.  Ons enigste hoop was dat Houston iets kon uitwerk.  Houston is tot vandag nog die operasionele sentrum vanwaar alle ruimtesendings beheer word.  Na die groot oorstromings kan Houston homself nie help nie.
 
Iemand sê nou die dag dat hy wens hy het in ‘n ander tyd geleef.  Dit is darem nou te moeilik onder Pres Zuma.  Geen wonder die kerke sukkel so nie.  Ek dink hier is twee sake op die spel.  Die een is die huidige politieke situasie wat sekerlik sy uitdagings het en dan is daar die kerke wat sukkel.  Ek is nie so seker dat die twee verband hou nie.
 
Ek dink kerke sukkel omdat hulle nie hulle roeping verstaan nie.  Dat die kerk besig is met ‘n oorlewingsstryd is waar.  Die waarheid is dat kerke oor die eeue heen in oorlewing was.  Dit is nie nuut nie.  Dat kerke onder moeilike omstandighede floreer is ook waar. Kerke en geloofsgemeenskappe oorleef wanneer hulle hulle roeping ontdek.  Hulle moet eers die vraag antwoord:  hoekom is ons waar ons nou is?   Is daar nie dalk ‘n boodskap in nie?  Die vraag is ‘n baie aktuele vraag binne die Valhalla geloofsgemeenskap.  Hoe het ons tot hier gekom?  Wat probeer God vir ons sê?  Waartoe roep Hy ons in die “moeilike” omstandighede?
 
As daar iemand is wat van moelike omstandighede kan praat is dit Paulus.  Ons het die verheerlikte prentjie van die groot suksesvolle sendeling  wat telkemale net sukses beleef het.  Hy is ‘n paar keer weggejaag uit stede uit en in die tronk gegooi. 
 
Gaan lees maar weer 2 Kor 11 hoe Paulus beskryf van sy lyfstraf.  Dat hy onder die klippe gesteek is.  Meer as een keer was hy op ‘n skip wat strand en dit net net oorleef. 
 
In vers 26 beskryf hy: “Ek was dikwels op reis en in gevaar.  Daar was riviere, gevare van rowers, gevare van my volksgenote en gevare van heidene.  Gevare van die stad en gevare in die veld; gevare op see en gevare onder vals broers.  Daar was my harde werk en swaarkry;  dikwels sonder kos, nagte sonder slaap, sonder skuiling of bedekking teen koue.”  Praat van moeilike tye! Ek is nie so seker dat ek plekke wil ruil nie.
 
Op die oomblik dat ek hier skryf verdrink die stad Houston onder water. Dalk is dit moeilik. Wanneer alles wat jy het, in ‘n dag se tyd onder water verdwyn.  Weereens is die vraag:  hoe praat God met ons in tye van nood?  Is dit nou God se straf op die ongeloof van mense?  Wat dan van die gelowiges wat ook daar leef, en ek ken ‘n hele paar.  Nee, as God ons wou straf, na regte wou straf, het Hy ons almal, letterlik almal van die aarde af gevee.  Ek dink ons het Sy skepping nou al so verwoes, dat die natuur besig is om te reageer.  Ons mors, ons verbrand tonne steenkool ‘n dag.  Ons mors met plastiek en dan is ons vroom om te sê dit is God se straf.  Wie skuld soek, wie straf soek, verstaan niks wat op Golgota gebeur het nie. Toe Hy uitroep Tetelestai, dit is afgehandel, het alle skuld, ook my en jou skuld verdwyn.  Nee, Houston is nie iemand se skuld nie.  Jesus antwoord tog self die vraag nadat die watertoring van Siloam op werkers inval en mense dood is. Die Jode soek skuld by die sonde van die voorvaders en Jesus sê, dit is niemand se skuld nie maar sorg dat jou saak reg is (as dit met jou gebeur).
 
Dalk is Houston  God se stem vir ons almal om te sê:  “Julle mors met my Skepping" en dit is die wekroep van die aarde wat sê genoeg is genoeg….  "Hou op mors.”   
 
Piet Marais 083 259 0023
 

Back Back to top