Newsletter / Blog


2017-11-15
ONS GEDAGTES


ONS GEDAGTES
 
Daar is so baie artikels oor die belangrikheid van gesonde kos en leefstyl. Ons kry dus oorgenoeg inligting en soms dalk te veel, wat ons help dat ons ons liggame kan voed met die regte kos. Dit help dat ons gesond bly en genoeg energie het om elke dag tot sy volheid te benut.
 
Ons brein word ook so op 'n daaglikse basis gevoed. As ons mooi daaroor dink, nie altyd met die beste en gesondste gedagtes nie. Weet julle dat ons brein die ontvanger is van tussen 10-20000 gedagtes per dag. Dit is nogal baie en wat nog belangriker is, is dat baie van die gedagtes ons toekoms kan beïnvloed.
 
As ons iets glo dan leef ons mos daarvolgens, nie waar nie? As ons gedagtes en woorde wat ons in ons brein het neem as die waarheid, gaan ons dit mos glo en is dit juis wat ons lewens beïnvloed.
 
So nou die groot vraag?:  ”Wat voed jy jou gedagtes?” Die vraag moet jy self kan beantwoord om vir jou riglyne te gee.  Kom ons kyk:
Met watter inligting word ons gedagtes dan elke dag gebombardeer?
 
Dit wat ons sien:
  • Dit wat ons lees. Dit sluit al die tegnologie in, dink bietjie oor die een, daar is so baie wat ons daagliks lees.
  • Waarna ons kyk.
 Wat ons hoor:
  • Waarna ons luister.
  • Mense om ons praat en al daardie inligting kom in ons gedagtes in.
 Dit wat ons beleef.
 
Dit wat ons proe:
  • Nogal ’n interessante een, maar waar. Ons weet tog wat is vir ons lekker om te eet en wat nie. Kom ons wees maar eerlik hoeveel maal dink ons aan kos en lekkernye in die dag?
God-Drie-eenheid gee vir ons inligting.
Die bose sit gedagtes in ons kop.
 
As ons dan al hierdie dinge weet en besef, is dit tog van uiterste belang dat ons ons gedagtes met die regte inligting voed. Dalk nog belangriker dat ons dit moet sif en die belangrikste vir ons neem en ‘save’ soos die Engelse dit sal sê.
 
Ons word verseker nie toegelaat om in alle omstandighede net inligting te neem wat ons wil nie. By ons werke kry ons inligting om ons take uit te oefen en ons moet dit doen sodat ons werk kan verrig.
 
Dit is die ander beheerbare inligting waaroor ons kan besluit. Soos hoe ek my geloof beoefen, my Bybel lees ens. Stokperdjies, watter tipe tydskrifte en boeke ek lees, musiek waarna ek luister, internet webwerwe wat ek besoek ens.

So baie mense word vasgevang deur leuens in hulle lewe. Dit wat die bose hulle laat glo dat dit waar is. Jesus het juis na die aarde gekom en die kruisdood gesterf sodat niks ons meer slawe maak nie.
 
Ons moet ons gedagtes oefen om die waarheid te glo, dit wat God van ons en ons omstandighede sê. Ons moet toelaat dat die Heilige Gees ons help om elke gedagte gevange te neem en te onderwerp aan God.

Elsa de Bruyn
LEEF KERK!
 
Belangrike datums:

19 November   09:00     Erediens
Prediker:  Dr Nelus Niemandt
Junior Geloofsvorming
Geen Senior Geloofsvorming

26 November  18:30  Kerssangdiens

 
Nuus uit ons nuwe gemeente
 
  • Ons hou op 26 November 2017 om 18:30 ons jaarlikse Kerssangdiens.  Dit is altyd 'n besonderse geleentheid en ons nooi almal uit om dit by te woon. 
  • Ons versoek dat elke gesin nie-bederfbare kos vir ons Koskas saambring na die Kerssangdiens.  Ons wil graag, veral in die Kerstyd, voorsien in die behoeftes van mense wat minder bevoorreg as ons is.  
  • Aangesien Ds Marais die volgende twee Sondae uitstedig is, moet u Dr Barnard kontak by 083 269 2768 in geval van nood.

Back Back to top