Newsletter / Blog


2017-10-16
LEEF KERK


Om Gelowig te Wees
Die baie bekende rocksanger en aktivis, Bono, skryf een jaar hier rondom die nuwejaar oor 10 nuwe idees wat die nuwe tydvlak beskaafder, interessanter en gesonder sal maak.  Na aanleiding daarvan skryf Stephan Joubert, “wat sal die Christene meer magneties maak in die komende jare?”  

Daar is by Teoloë altyd die kwelvraag, “Wat sal die Kerk aanlokliker maak?”  Hoekom het die vroeë kerk so gefloreer?  Wat doen ons so verkeerd? Is die Charismate beter mense as ons dat hulle so vooruitgaan? Het ons dalk die Heilige Gees aan die Charismatiese kerke uitverkoop en dobbel ons nou die laaste rente uit, sê ‘n baie goeie vriend en kollega nou die dag.

Ek dink een van die probleme wat die kerk en Christene het, is ‘n kop probleem.  Dit is iets wat onsself geskep het met ons oordrewe klem op kerk as instelling, as instituut.  Ons het verleer om ons gelowiges te help om as gelowiges in die wêreld te leef.  Ons het hulle net aangespoor om kerk toe te kom, dan is hulle gered en oppad na saligheid en hulle hoef nie veel meer te doen nie.  Ons het vergeet om hulle voor te berei vir die erediens van die lewe.  Elke dag se worstel met die lewe is uitdagend en uitputtend.  Ons het hulle nooit vertel wat Jesus so al visvangend en werkend vertel het nie.  Hy het hulle vertel om te leef, voluit te leef…… as gelowiges.  Dit was die einste Karel Bart wat gesê het ”Daar is twee maniere van bid.  Die een is om in jou binnekamer in te gaan en te bid tot jou Vader wat in die hemele is.  Die ander is om jou oë oop te maak en jou werk te doen , want jou werk is ook ‘n stuk gebed”. 

Ek lees ‘n verhaal van ‘n maatskaplike werker in New York.  Een aand gaan hy by ‘n plaaslike eetplek eet en toe hy van die trein afklim wag ‘n jong man met ’n mes hom in en dreig hom vir sy beursie.  Toe die jong man weghardloop roep die maatskaplike werker, Julio is sy naam, agterna, “Jy het my jas vergeet. Jy gaan dit nodig kry vir die nag”.  Die aanvaller was so oorbluf dat hy vir Julio vra “Hoekom  bied jy jou jas ook aan?”  Toe nooi Julio hom ook nog verder om saam te eet.  Onwillig neem hy die uitnodiging aan, want kos het hy lanklaas geproe.  Terwyl hulle sit en eet kom die eienaar en kelner en kom groet hom.  Onmiddelik vra die jongman, “Maar waarom is jy so vriendelik met almal? antwoord Julio, ”Is jy nie geleer om vriendelik met mense te wees nie?”  Die antwoord van die jongman is veelseggend  “Ja, maar ek het nie geweet mense bedoel dit regtig nie.”  Na ete gee Julio nog $20 in ruil vir sy mes.  Dit is ‘n vreemde verhaal, maar dit is ‘n lewende Bybelteks vir ander om op straat te lees en dit is magnetiese geloof.

Die antwoord in ons soektog na ‘n lewenskragtige geloof is steeds te vind in stroomop mense wat Jesus se Bergrede-leefstyl volg.  So lank ons geloof meet aan suiwerheid van mense se lipgedrewe belydenisse oor God en nie of dit hulle voetsole en vingerafdrukke bereik nie (Stephan Joubert) sal die kerk voortgaan met vervelige, versigtige en voorspelbare godsdiens.

Daarom moet ons die kerklike gemeenskap leer lewe.  Ons sal die tweede myl moet stap met die goeies, slegtes, omgekraptes, hopeloses, oud, jonk, rassiste, kapitaliste, armes, hoopvolles, galbrakers, henshoppers, aktiviste, wegkruipers, godsdienstiges, wie ook al.  Ons sal moet leer om met Christus te waag.  Gaan leef kerk, gaan beleef die krag van geloof in ander mense se lewens.

LEEF KERK!
 
      

Piet Marais
083 2590023

Back Back to top