Newsletter / Blog


2017-12-04
Die Dag toe die Hemel aarde toe gekom het


Die Dag toe die Hemel aarde toe gekom het - No 1
Die Kersverhaal is en bly die mooiste storie van alle tye.  Dit kan oor en oor en jaar na jaar vertel word sonder dat die storie oud of afgeleefd raak.  Die probleem met die Kersverhaal is dat ons eintlik bitter min verstaan van wat gebeur het.  Ons oë bly so gefikseerd op die krip van Betlehem (die huis van brood) dat ons nie die groter prentjie raaksien nie.  Tog, ten spyte daarvan is en bly die Kersverhaal uniek, want in geen ander godsdiens of geloof kom so ’n sprokiesverhaal voor nie.

In die verhaal gebruik God twee diensknegte, Josef en Maria, om die menswording van God te fasiliteer.  Dalk is dit die verkeerde woorde, maar hulle lewens word die voertuig waarmee God aarde toe kom.  Hy moes sy goddelikheid behou anders kon Hy nie ons sondeskuld op hom neem nie.  Daarom het die ou kerkvaders dit goedgedink om Sy vleeswording te verwoord met die woorde van ‘n maagdelike geboorte.  Hy moes God bly…. Maar Hy moes mens word om te kon huil en lag, om moeg te word, om geïrriteerd te raak, mens soos ek en jy. 

Ek dink dit moes ‘n geweldige skok vir Josef en Maria gewees het om skielik met God in jou hande te lê.  Hoe hanteer ‘n mens dit?  Hoe maak jy vir God groot?  Maar eintlik is dit maar net die voorspel van wat later met almal van ons sou gebeur toe God sy Gees in ons lewens kom instort het.  Skielik is Hy in jou skoot geplaas.  Dit is hoekom die saak vir Nicodemus so ‘n geweldige moeilike saak was, wat hy en ek nie een begryp het nie.

Geloof is en bly ‘n een stuk wonderwerk.  Dit is nie ek wat glo nie, maar God se Gees wat byna soos ’n kind in my midde geplaas word.  Dit bly altyd met verwondering dat ek na klein mensies kyk en oopmond na hulle geloofsbelewenisse luister, vir wie Jesus ‘n absolute werklikheid is.  Geen wonder dat die Bybel ons herinner aan die geloof van kinders nie.

Die Kersverhaal vertel van skaapwagters wat ‘n ster sien en onmiddelik op die teken in die nag reageer om soos dit in Lukas geskryf staan, ondersoek te gaan instel.  Ek weet nie van jou nie, maar God bly altyd in my denke iets, nee, liewer iemand om te ondersoek of beter gesê te ontmoet.  Is dit nie dalk die probleem met die moderne mens dat ons te wetenskaplik na God wil kyk nie.  Dat ons iets van die verwondering verloor het. Dat ons nie meer opgewonde is om God te ontmoet nie.  Dalk het ons Hom so “vergoddelik’’ dat ons vergeet het Hy was mens.  Ek dink met jaloesie aan die dissipels wat dag vir dag met Hom die stofpaaie geloop het.  Wat die gesels, die uitvra, die karakter van Godwees kon beleef het.

Wat my net so fasineer is die feit dat die mense wat Sy bestaan kom bevestig, eenvoudige mense was, skaapwagters, nie die geleerdes nie.  Geloof verkies altyd eenvoud en eenvoudigheid.  Al die teologie en skrifgeleerdheid bring ons nie noodwendig nader aan God nie.  Dit is die reaksie wanneer God hom in ons midde plaas wat op geloof uitloop.  Die skaapwagters wat na mof en skaap geruik het, het op Sy teken gereageer, gaan ondersoek instel, en teruggegaan met geloof in die hart.  Vir baie van ons is “sien is glo” en daarom verstaan ek dat baie gelowiges, met onrustigheid God wil gaan ontmoet.  Paulus was gedwing om God te ontmoet, ander het maar so skaam-skaam in die skemerte van die aandwindjie met God gewandel. 

Kersfees gaan oor jou en jou alleen.  Elke Kersfees, maar ook elke dag word God opnuut in jou skoot gebore.  Die eintlike Kersvraag is:  wat maak jy met God?


Ds Piet Marais

083 259 0023

 
 
 
 
 
 
 
 
Jy ontvang hierdie e-pos omdat jou naam op ons databasis is.
Ons e-posadres is:  info@ngvalhalla.co.za


Wil u op ons e-poslys wees?
U kan update your preferences or unsubscribe from this list.

NG Valhalla - H/V Fergus en Bothma Straat - Valhalla - Pretoria - GP - 0185 - Suid-Afrika





 

 

Back Back to top